Dooie See-rolle

Dooie See-rolle
Die Psalmskrifrol (11Q5), een van die 981 tekste van die Dooie See-rolle.
Die Psalmskrifrol (11Q5), een van die 981 tekste van die Dooie See-rolle.
Beskrywing
Materiaal Papirus, perkament en koper
Skryfwerk Meestal Hebreeus; Aramees, Griekse en Nabateens-Aramees
Geskep/ontstaan 3de eeu v.C. - tot 1ste eeu n.C.
Ontdekking
Datum ontdek 1946/'47-1956
Tans in Israeliese Museum, Jerusalem; Jordaniese Museum, Amman
Fragmente van die skrifrolle op uitstalling in die Jordaniese Museum, Amman.

Die Dooie See-rolle (ook genoem die Qumrangrot-rolle) is antieke Joodse en Hebreeuse godsdiensmanuskripte wat tussen 1946 en 1956 ontdek is in die Qumrangrotte in die destydse Mandaat van Palestina. Die grotte is naby Ein Feshkha in die Wesoewer aan die noordkus van die Dooie See.

Die manuskripte dateer van die 3de eeu v.C. tot die 1ste eeu n.C.,[1] en word beskou as 'n hoeksteen in die geskiedenis van argeologie wat van groot historiese, godsdienstige en linguistiese belang is omdat dit van die oudste manuskripte insluit wat bewaar gebly het van hele boeke wat later in die Bybelse kanon opgeneem is, asook deuterokanonieke en niebybelse manuskripte wat bewyse toon van die uiteenlopendheid van godsdiensdenke in Judaïsme in die tyd van die Tweede Tempel. Terselfdertyd werp dit nuwe lig op die opkoms van die Christendom en van Rabbynse Judaïsme.[2]

Die meeste rolle word in die Israeliese Museum in Jerusalem gehou, maar die eienaarskap daarvan word deur Jordanië betwis vanweë die Qumrangrotte se geskiedenis: Ná die einde van die Britse Mandaat van Palestina in 1947 het Jordanië die gebied in die Arabies-Israeliese Oorlog van 1948 beset, maar Israel het beide die gebied en verskeie van die rolle in die Sesdaagse Oorlog van 1967 verower.[3] Sommige van die rolle is egter steeds in Jordanië en word bewaar in die Jordaniese Museum in Amman. Eienaarskap word ook betwis deur die Staat Palestina.[4]

Baie duisende geskrewe fragmente is in die Dooie See-gebied ontdek. Dit is dele van groter dokumente wat beskadig is deur óf natuurlike oorsake óf menslike hantering. Die meeste fragmente bevat net klein stukkies teks. 'n Paar goed bewaarde, byna onbeskadigde manuskripte het ook behoue gebly – minder as 'n dosyn onder dié van die Qumrangrotte.[1] Navorsers het altesaam 981 verskillende manuskripte saamgestel – wat in 1946/'47 en in 1956 ontdek is – uit 11 grotte.[5] Die grotte is geleë sowat 1,5 km wes van die noordweskus van die Dooie See, van waar hulle hulle naam kry. Argeoloë het die rolle lank verbind met die Joodse sekte die Essene, hoewel dié bevinding vanweë onlangse vertolkings in twyfel getrek word. Baie geleerdes dink hulle is deur priesters in Jerusalem of onbekende Joodse groepe geskryf.[6][7]

Die meeste van die tekste is in Hebreeus, met party geskryf in Aramees; in verskillende streekdialekte, soos Nabateens; en 'n paar in Koine-Grieks.[8] Ontdekkings in die Judese Woestyn is ook in Latyn en Arabies.[9] Die meeste van die tekste is op perkament geskryf, sommige op papirus en een op koper.[10]

Geleerdes stem saam die rolle dateer van die laaste drie eeue v.C. en die eerste eeu n.C.,[1][11] hoewel manuskripte van verwante terreine in die Judese Woestyn uit so vroeg as die 8ste eeu v.C. en so laat as die 11de eeu n.C. kan dateer.[12] Bronsmuntstukke wat uit 135-104 v.C. tot 66-73 n.C. kom, ondersteun die paleografiese en radiokoolstofdatering van die rolle.[13]

Weens die swak toestand van sommige van die rolle, is al die tekste nog nie geïdentifiseer nie. Dié wat wel is, val in drie algemene groepe:

  1. Sowat 40% is afskrifte van die Hebreeuse Bybel.
  2. Sowat 30% kom uit die tyd van die Tweede Tempel en word nie in die Hebreeuse kanon aangetref nie, soos 1 Henog, Jubileë, Tobit, die Wysheid van Sirag, Psalms 152-155, ensovoorts.
  3. Die res (sowat 30%) is sektariese manuskripte van voorheen onbekende dokumente wat lig werp op die reëls en geloofsoortuigings van 'n spesifieke groep ('n sekte of groepe binne die groter Judaïsme).[14]
  1. 1,0 1,1 1,2 "The Digital Dead Sea Scrolls: Nature and Significance". Israel Museum Jerusalem. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2014. Besoek op 13 Oktober 2014.
  2. "Dead Sea Scrolls | Definition, Discovery, History, & Facts | Britannica". www.britannica.com (in Engels). Besoek op 17 November 2021.
  3. Lash, Mordechay; Goldstein, Yossi; Shai, Itzhaq (2020). "Underground-Archaeological Research in the West Bank, 1947–1968: Management, Complexity, and Israeli Involvement". Bulletin of the History of Archaeology (in Engels). 30. doi:10.5334/bha-650. S2CID 229403120. Besoek op 21 Augustus 2022.
  4. Lyons, Martyn (2011). Books: a living history. Los Angeles: J. Paul Getty Museum. pp. 51–53.
  5. "Hebrew University Archaeologists Find 12th Dead Sea Scrolls Cave". The Hebrew University of Jerusalem. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Junie 2017. Besoek op 7 Junie 2017.
  6. Ofri, Ilani (13 Maart 2009). "Scholar: The Essenes, Dead Sea Scroll 'authors,' never existed". Ha'aretz. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Januarie 2018. Besoek op 26 Mei 2017.
  7. Golb, Norman (5 Junie 2009). "On the Jerusalem Origin of the Dead Sea Scrolls" (PDF). University of Chicago Oriental Institute. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 10 Junie 2010. Besoek op 11 Mei 2010.
  8. Vermes, Geza (1977). The Dead Sea Scrolls. Qumran in Perspective. London: Collins. p. 15. ISBN 978-0002161428.
  9. "Languages and Scripts". Leon Levy Dead Sea Scrolls Digital Library. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2014. Besoek op 13 Oktober 2014.
  10. McCarthy, Rory (27 Augustus 2008). "From papyrus to cyberspace". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2016. Besoek op 17 Desember 2016.
  11. "The Digital Library: Introduction". Leon Levy Dead Sea Scrolls Digital Library. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Oktober 2014. Besoek op 13 Oktober 2014.
  12. "The Digital Library: Introduction". Leon Levy Dead Sea Scrolls Digital Library. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Oktober 2014. Besoek op 13 Oktober 2014.
  13. Leaney, A.R.C. From Judaean Caves: The Story of the Dead Sea Scrolls. p. 27, Religious Education Press, 1961.
  14. Abegg, Jr., Martin, Peter Flint, en Eugene Ulrich, The Dead Sea Scrolls Bible: The Oldest Known Bible Translated for the First Time into English, San Francisco: Harper, 2002.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search